Karoo Birding Safaris
  • Home
  • About
    • Guestbook
  • Tours
  • Contact
    • Tour Booking Form

DIE PAD TUSSEN CARNARVON EN PRIESKA (R 386)

25/10/2013

0 Comments

 
Die pad tussen Carnarvon en Prieska (R386) is nie ‘n pad wat dikwels deur toeriste gery word nie. Die pad kronkel vir 165 km tussen plase deur, oor heuwels en deur droë rivierlope, meestal sonder boompies. Dit is ‘n pad wat meesal deur die boere van die omgewing gebruik word, maar selfs hulle het minder geword deur die jare. Daarom is die plaaslike munisipaliteit ook nie so geneë om die pad dikwels te skraap nie.

Nietemin is dit ‘n pad met pragtige omgewingstonele, veral na reën, wanneer die area lower groen is met sy tipiese tafelkoppies. Damme is skielik vol water en ook vol interessante voëls. Mense hier, die wat nog hier bly, is vriendelik en gulhartig, bly om ander mense te sien en te gesels. Dit is ‘n pad met interessante plaasname waaroor jy net kan gis soos Minaskolk, Olifantskop, Salem, Renosterkolk, Carelsgraf, Constantia, Buffelboud en Geelbospan. Carelsgraf het ontstaan toe Carel Kruger en sy broer gedurende 1783 in die omgewing was. Carel het gedurende 1791 ‘n olifant in die omgewing gekwes en die olifant het hom dood getrap waarna hy hier begrawe is. Vandaar die interessante naam en dit verduidelik ook waar Olifantskop vandaan kom. ‘n Regte wilde wêreld vroeër!!

Hierdie pad is ook ‘n baie interessante voëlkykpad, lekker stil en rustig, min verkeer en jy vergeet gou van die stede se gewoel. Bleeksing-, edel- en grootrooivalke vorm die meerderheid van roofvoëls, maar daar is ook enkele witkruisarendneste in die kranse van die tafelkoppe. Breëkoparende verkies weer die pale van die kraglyne of die bloekombome op die verlate plaaswerwe. Die Karoo se vaalbruinvoëltjies (Little brown jobs) is egter waarvoor jy hierdie pad sal kom ry. Lewerikke is volop met Karoolangbek-, vlakte-, dikbek-, Sabota- (met die dikbek), rooikop-, vaalbruin- grysrug- en swartoorlewerikke wat voorkom.

Ander Karoovoëls sluit in grootvlieëvanger, Karoospekvreter, geel-, witkeel- en swartkopkanaries, vaalstreepkoppies, rooioorlangstertjies, groenbos- en geelpensbossangers, Kaapse kapokvoëltjies, woestyntinktinkie, Namakwaduifie en grystjeriktik. In somer kan jy uitkyk vir Europese byvreters, rooirug- en gryslaksmanne, Europese en swartwindswaels, terwyl sommige van die bruggies ook familieswaels huisves. Noord van Constantia kan jy ook begin kyk vir baardmannetjies en versamelvoëls.

Die gronddamme en panne langs die pad is die interessante plekke na die reëns want hier kan enige iets opduik. Dit bly nog altyd ‘n raaisel hoe watervoëls so vinnig uitvind van ‘n dam wat water kry nadat die dam vir maande of selfs jare leeg was. Sulke damme en panne is naby die plase Olifantskop, Soutpan, Carelsgraf en Constantia. Kyk hier uit vir groot- en kleinflaminke, teeleendjies, Kaapse slopeende, kopereende, glansibisse, bloubek- en bruineende, kormorante, lepelaars en elsies. Honderde waadvoëls vergader ook hier in die somer wat insluit klein-, geelbors- en krombekstrandlopers, groenpoot- en bosruiters en kemphaan.  GROOT VERSOEK – MOET ASB NIE OOR HEININGS KLIM SONDER TOESTEMMING NIE!!! Ongelukkig is daar niks wat ‘n vriendelike boer so vining in ‘n bed…..de boer verander as iemand wat oor sy heinings klim nie.

Moet ook nie vergeet van die groot grondlewende voëls wat jy hierlangs kan kry nie soos gompou, sekretarisvoël, witooievaar (somer), vaal- en noordelike swartkorhaan en selfs honderde Ludwigse poue.

Ongeveer 60 km suid van Prieska is daar ‘n groot soutpan wat bewerk word met ‘n horde windpompe wat baie voëls huisves wanneer dit water het. Vra toestemming by die kantoor en gaan bekyk die pragtige voëls wat in die Karoo kom kuier het.

Sit in die oggend by ‘n eensame windpomp met ‘n lekkende dammetjie en terwyl jy zip aan die koffie, kyk hoe honderde kelkiewyne neerdaal om te kom water drink. Jy sal terselfdertyd ook ‘n klomp ander Karoovoëls sien.

Wanneer jy weer die rus, vrede en prag van die Karoo wil geniet, gaan ry die R386!

 

Japie Claassen

 

 

0 Comments



Leave a Reply.

    Trip Reports

    All
    Birding Copporton And The Upper Karoo
    Botswana & Caprivi 2012
    Botswana Jan 2011
    Botswana Nov 2011
    Die Pad Tussen Carnarvon En Prieska (R386)
    Eastern Cape Nov 2010
    Kalahari Trip March 2012
    Kruger Park 2012
    Limpopo & Kruger & Mpumalanga March 2014
    Mozambique Oct 2012
    Mozambique Tour 2011
    Namaqualand & Tanqua Bird & Flower Tour - August 2014
    Namaqualand & Tanqua Bird & Flower Tour - September 2014
    Namibia July/August 2013
    Natal In Winter June 2011
    Natal Tour May 2013
    Northern Cape Jan 2011
    Tanqua & Namaqualand Aug 2011
    Wakkerstroom & Natal Jan/Feb 2014

    Archives

    March 2015
    January 2015
    December 2014
    October 2013
    January 2013
    December 2012
    November 2011
    October 2011
    January 2011

Picture
karoobirding@beaufortwest.net
Phone: +27 (0) 83 724 7916
© 2020 Karoo Birding Safaris | All Rights Reserved
​Website created by Gita Claassen
  • Home
  • About
    • Guestbook
  • Tours
  • Contact
    • Tour Booking Form